Daar is ‘n tyd vir elke ding…

Die Grieke het twee woorde vir tyd. Ons het net een. Chronos ,is tyd soos ons dit ken. Jy word gebore, gaan deur jou lewe en sterf. Dis eenuur, dis drieuur, dis tienuur, dis slaaptyd. Ons is vasgevang in hierdie tyd. Dis goed en sleg. en hierdie tyd gaan baie vinnig verby. Maar dan is daar Kairos. Dis ‘n ander tyd, ‘n diep tyd, ‘n mistiese tyd, God se tyd is so.

Prediker drie praat van die onbepaalde tyd. God se tyd is ewig,tydloos. God se tyd is vol betekenis. Ons oë moet op God se tyd gerig wees. Ons oë moet nie op die sigbare gerig wees nie maar op die onsigbare.

God se tyd is ‘n tyd van vrede, dis ‘n tyd vol betekenis, dis ‘n tyd wat God bepaal.

So in die diep lockdown kry ek ‘n kollega in Spar. “Hoe gaan dit?” vra hy. “nee, wat sê ek oraait behalwe vir hierdie Corona krisis.” en hy sê: “Every crisis is a question about God.” en dit slaan my voor die koop.

Tyd in God se hande is soos klei in die hande van die pottebakker. God gebruik tyd op ‘n ander manier as ons. Tyd is vir God ‘n instrument om sy liefde vir ons te wys, te gee. By God is tyd vol betekenis.

Tyd kan ‘n geweldige las wees. Tyd kan ook ‘n geweldige seën wees. Tyd is slegs ‘n seën as ons dit verander in God se tyd. As ons met ander oë na tyd kyk. As ons tyd sien as ‘n instrument in die hande van ‘n Liefdevolle Vader. Dan word die dood ‘n tyd van betekenis. Geboorte is dan nie net as ‘n kindjie die lig sien nie, maar as iemand sy lewe aan God wei. Elke sonsopkoms, elke ding wat gebeur, sien ons dan as iets in God se hande, wat Hy sal gebruik om sy liefde aan ons te betoon.

Kyk wat sê Thomas Merton hieroor:

“The Bible is concerned with time’s fullness, the time for an event to happen, the time for an emotion to be felt, the time for a harvest or for the celebration of a harvest.”

Hier is ‘n vraag: “Hoe is God in Corona?” Hoe het God hierdie afgelope tyd gebruik soos ‘n Pottebakker klei gebruik oim iets te vorm…

11God het elke ding gemaak dat dit pas in ’n bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens ’n besef gegee van die onbepaalde tyd. Tog kan die mens die werk van God van begin tot einde nie begryp nie. 

 Die Bybel Nuwe Vertaling. (1998). (electronic ed., Ec 3:11). Cape Town, South Africa: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

“Holy week…”

Hierdie week staan in die kerk as “Holy week” bekend. Die week voor Jesus se Kruisiging. Dis ‘n heavy week. ‘n Week van nadink. Elke dag het daar iets gebeur. Van Sondag tot Sondag. Die eerste Sondag het Jesus in Jerusalem aangekom. Hy is soos ‘n Koning ontvang. Plamtakke is voor sy voete neergegooi. Die volgende Sondag het Hy uit die dood opgestaan!

Maar vandag wil ek met jou praat oor die Maandag. Een van die dinge wat op die Maandag gebeur het is; Jesus het baie kwaad geword vir die mense in die Tempel. So kwaad dat Hy hulle met ‘n sweep geslaan het. En so, leer Hy ons iets van kwaad word.

Nou mense moet eers die ding mooi verstaan. Kyk die ouens by die Tempel was baie prakties. Jy moes geld in die kollekte bord gooi en ‘n dier bring om te offer. Die probleem met die geld wat jy daar aanbring is dat dit Romeinse geld is. Jy moet Tempel Sikkels mee betaal. Nou ja toe, toe maak die Tempel ouens ‘n plan. Ons ruil jou geld vir jou uit. ‘n Paar ouens kry ‘n lisensie en whalla. Probleem gefix. Ma jy kan mos maar net dink nè.
Die ander ding is, jy moes ‘n dier bring om te offer. Maar hierdie dier het sekere vereistes. Jy kan dus ‘n bok of ‘n skaap of iets buite die Tempel koop, maar dan is daar altyd die kans dat die Priesters dit sal afkeur. Nou koop jy maar die regte dier ten duurste by die Tempel manne.

Hierdie dinge het Jesus kwaad gemaak. Dit wat heilig veronderstel is om te wees. Dit wat special moet wees. Hierdie ouens laat dit oor iets ander gaan en dit maak Hom kwaad. Baie kwaad, en Hy doen iets daaraan.

In hierdie wêreld is daar baie onreg. Wat doen ek as ek onreg sien? Niks? Of word ek kwaad oor onreg en doen iets.

“Jesus help my om soos U te wees. Om kwaad te word vir die regte goed. Vir onreg. En Jesus help my om soos U vreesloos ‘n verskil te maak. U is mos aan my kant…”

Plesierboot of Seilboot…

Ek lees die volgende aanhaling in ‘n boek: “It is not the church of God that has a mission. It’s the God of mission that has a church.” Dit is sooo waar.

Ek is partymaal so daarop gefokus om mense in die kerk te kry, dat ek vergeet waaroor dit regtig gaan. God het ‘n plan vir hierdie wêreld. Sy plan is haarfyn en in detail. Hy weet wat Hy doen. Ek en jy, die kerk is sy hande en voete om hierdie plan in die wêreld te laat uitwerk. Ons mission moet wees om uit te figure wat hierdie plan is. Waarmee is God besig?

As ons sien waarmee God besig is, dan moet ons daarmee besig raak. Want, dit is dan God se mission in hierdie wêreld. God se plan, nie my plan nie. Om die onderskeiding te hê om God se plan van al my plannetjies te onderskei. Dis die punt.

Iemand het eendag gesê dat die kerk partymaal baie soos ‘n plesierboot is. ‘n Plesierboot adverteer en doen alles om soveel moontlik toeriste op die boot te kry. En, as hulle op is. Dan word hulle ge-entertain. Dis flieks en etes en konserte, jy noem dit. Nee, die kerk moet eerder soos ‘n seilboot wees. ‘n Skip wat van sy koers seker is, aangedryf deur die wind van die Gees. Die bemanning werk baie hard om hierdie boot aan die vaar te hou. Hulle hande vol eelte van al die toue werk en so aan.

Die beeld van die Plesierboot en die Seilboot is ‘n beeld wat ons help om dit te verstaan. Maar dit is ‘n beperkte beeld. Ons moet eintlik van die boot af klim. Ons moet in die wêreld in. Dink aan Jesus. Hy was heeltyd tussen die mense. Besig met wat? Besig om sy Vader se plan te volbring.

Net voor Jesus sy laaste asem uitgeblaas het, het hy dit gesê: 30Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!” Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas. (electronic ed., Jn 19:30)

Die vraag is dus nie; “wie gaan ons nou weer in die wêreld in stuur nie?” die vraag is “waarvoor stuur God ons?” ons is die gestuurdes in hierdie wêreld in. God het gekies om vir ons die stokkie aan te gee. Dis ons werk. Ons moet net uitfigure wat sy presiese plan is op die plek waar ek geplant is. Ek moet blom waar ek geplant is.

Toe Jesus in die hemel opvaar het sy dissipels Hom oopmond agterna gestaar. Toe verskyn daar ‘n engel aan hulle en vra: “Galileërs waarom staan julle so na die hemel en staar…” (Handelinge 1:11). So asof God vir hulle wil sê, kom nou julle; nou is dit julle beurt. Gaan soek my in jou buurt, in jou huis, by jou werk, Ek is daar aan die werk. Kom en raak deel van dit!

Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, 28want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. (electronic ed., Ac 17:27–28)

Hoekom is ek hier…

Ek kom die week by iemand wat ernstig siek is. Ek loop in en sê, ek gaan maar eerder my masker dra en 1,5 m wegsit. Nee, sê die persoon dis nie nodig nie. Wat gee dit tog om. My lewe is verby. Ek is net ‘n suurstof dief.
(Mense se privaatheid is vir my baie belangrik. Die persoon sal nie omgee as ek hierdie hierdie deel nie)

Hoekom is ons hier?

Mense wat my ken weet ek is nogal erg oor fietsry. Ek kan dit partymaal nogal oordoen. Ek voel partymaal baie maal sleg oor dit. Tye wat ek met my geliefdes kon spandeer is ek baie maal op die fiets. En toe dink ek daaroor? Hoe voel God oor dit? Is Hy ook suur vir my? Ek dink Hy is bly vir my. Dis dan Hy wat my so gemaak het.

Efesiërs 2:10 sê in die engelse vertaling; ek is God se “handiwork.” Hy het my gemaak. Ek is nie ‘n fout nie.

Jare terug het ek ‘n preek van Edison Quiros bygewoon. Hy het in sy gebroke engels vertel van die skroewedraaier. Hy het gesê: “You see this here. This is a skroewedraaier. What is this skroewedraaier made for. Oh i know, to scratch in your ear? Or maybe to eat an apple with? No this screwdriver was made for screwing and unscrewing…”

Waarvoor is ek gemaak?

Om die beste jy te wees wat jy kan wees. God verander nie ‘n introvert in iemand wat die Nar van die aand is nie. God het daardie persoon so gemaak. Hy gaan daardie persoon tot sy volle potensiaal laat kom. God het my gemaak om ‘n dominee te wees. Hy gaan my kragtig daar gebruik. Miskien het God jou gemaak om te dien, kos te maak, rekenaar werk te doen, fiets te ry… God sal nooit van ‘n skroewedraaier verwag om ‘n tang te wees.

Kyk wat sê die woord: 21Die oog kan nie vir die hand sê: “Ek het jou nie nodig nie.” Die kop kan weer nie vir die voete sê: “Ek het julle nie nodig nie.” 22Inteendeel, die lede van die liggaam wat as die swakste voorkom, is juis noodsaaklik…
Die Bybel Nuwe Vertaling. (1998). (electronic ed., 1 Co 12:21–22). Cape Town, South Africa: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

So wat is die punt hier. Ek dink jy het dit reeds gevang. God het ons gemaak om die beste JY tw ees wat jy kan wees. As jy hou van Surf weet God glimlag daaroor. Hy sal jou daar gebruik. As jy ‘n loofgieter is gaan God jou daar gebruik, en van jou die beste loodgieter wil maak.

Om terug te kom na die persoon wat gesê het dat sy ‘n suurstofdief is. Nee, sy is nie. Sy is God se geliefde dogter. Sy is gemaak om ‘n moeder te wees. ‘n Ouma. God se kind.

Johannes 10:10 sê dit vir my so mooi: “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.”

Waarvoor roep God jou? Wat vra Hy as Hy sê. “My geliefde seun/dogter kom hier ek wil hê jy moet vir my doen…”

Vrees en Vergelding…

So die nuwe 2020 vertaling van die Bybel is uit. Ek geniet dit baie. Ek sê nou die dag vir iemand; toe hulle my vra; hoe is die nuwe Bybel. Ek sê vir hom: “Jy kan nie ‘n 1983 en ‘n 2020 Toyota Corolla met mekaar vergelyk nie…” Ok, ok, ek weet ‘n Bybel en ‘n kar is nie dieselfde nie. Maar you catch my drift.

Die eerste ding wat ek toe doen, toe ek die nuwe Bybel in my hande vashou, is; ek blaai na Psalm 23 toe. En is dit nie mooi vertaal nie. Dis toe dat ek weer dink oor Psalm 23.
En dan veral vers 5:
“U dek vir my ‘n tafel
voor die oë van my teenstanders.
U verfris my kop met olyfolie;
my beker loop oor.”

Die 1983 vertaling het gepraat van vyande. Whats this all about. Hoekom dek my Here vir my ‘n tafel voor my teenstanders. Is dit ‘n in-die-gesig-uitlag oefening? ‘n Kyk-ek-sal-julle-wys vinger wat ek swaai? Ek dink dit gaan oor vrees en vergelding.

Ons is almal bang vir mense en dinge. En hierdie mense en dinge waarvoor ons bang is, maak dat ons wil vergeld. Dink maar aan iemand wat ‘n persoon wat baie na aan jou is kwaad aandoen. Wat is jou emosie? Ek het dit hierdie week so aan my lyf gevoel. Iemand was lelik met my vrou. En ek het daai persoon sleg gesê en net daar besluit ek is klaar met jou. Ek het sommer by myself gedink; “ek hoop julle dinge werk nie uit nie.” En; “julle gaan julle rieme nog styfloop, die wiel gaan draai, watch ma net…”

En toe lees ek die vers. “U dek vir my ‘n tafel voor die oë van my teenstanders.” En ek besef. God is so goed vir my. Hy verfris my kop met olie, my beker loop oor. Vergelding is nie die ding hier nie. My lewe sal wys dat my Herder goed is vir my en dit sal dinge verander. Die huis waarheen ek sal terugkeer tot in lengte van dae, dis ‘n huis van liefde en deernis.

En vrees? Waar pas dit in. Die mense wat my bang maak. Hulle is die mense wat ek mee sukkel. Soos die korruptes in die politiek. Die wat my goed kan vat. Hulle wat my menswaardigheid kan steel. My manier van leef en verstaan kan steel. Mense wie se maniertjies ek nie verstaan nie. Ek vrees hulle en ek wil vergeld. Dis natuurlik.

Dawid wat die Psalm geskryf het, het in ‘n grot gesit. Omring deur vyande. Toe hy gevlug het vir sy eie seun. Vrees en Vergelding, was in sy kop… Kyk bietjie wat staan daar: 22 Dawid het daarvandaan weggegaan en ontsnap na die Adullamgrot toe. Sy broers en sy hele familie het dit gehoor en daarheen gegaan na hom toe. 2Verder het elkeen wat in die moeilikheid was, en elkeen wat ’n skuldeiser gehad het, en elkeen wat verbitterd was, by hom aangesluit, en hy het hulle leier geword. Daar was ongeveer vier honderd man by hom.  (Die Bybel Nuwe Vertaling. (1998). (electronic ed., 1 Sa 22:1–2). Cape Town, South Africa: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.)

Hierdie Psalm waarsku my teen dit. hierdie Psalm sê: “Die HERE is my herder; ek ly nie gebrek nie.

Hier is die hele Psalm in die 2020 vertaling:

Die HERE is my herder;
ek ly nie gebrek nie.

In groen weivelde laat Hy my rus;
na water waar daar rusplek is, lei hy my heen.
Hy gee my nuwe lewenskrag;
Hy lei my op die regte paaie
ter wille van sy Naam.
Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan,
is ek nie bang vir gevaar nie,
want U is by my.
Dit is u staf en u stok wat my gerusstel.

U dek vir my ‘n tafel
voor die oë van my teenstanders.
U verfris my kop met olyfolie;
my beker loop oor.

Net goedheid en troue liefde sal my volg
al die dae van my lewe,
en ek sal bly terugkeer
na die huis van die HERE,
tot in lengte van dae.

…is Paasfees ‘n “Celebration of violence”?

Ok, so ek lees hierdie Blog van Roger Gottlieb, en hy vra die vraag. Is Paasfees ‘n “Celebration of Violence?” My vriend Pierrie het my gevra om by ons 08:00 diens te preek, want hy moet 10:00 die Kinderkerssangdiens doen. Toe kom ek op hierdie onderwerp af.

Roger Gottlieb vra; hoe kan dit wees dat so baie “onskuldige” Egiptenare kon sterf? Ek meen al die eerstegeborenes van die Egpiptenare het gesterf, mens en dier. Dis rof, was dit regtig nodig? En in in die Nuwe Testament. Mel Gibson se fliek; onthou jy dit nog? “The Passion of the Christ.” Dit was heavy.

Paasfees raak ‘n metafoor vir ons eie geestelike lewe. Dink maar aan ‘n heavy ding, soos Alkoholisme. Jy is in Slawerny in Egipte. Dis heavy. Maar jy bly daar. Jy is tevrede. Tevrede?! Ja, want jy ken dit. Wat sal dit vat om dit te los? Iets moet sal moet sterf. Miskien iets onskuldig. En ek? Ek sal die eerste tree moet vat. In die woestyn in. In die onbekende in. Skynbaar alleen, bang. En dan? Dan gaan jy uiteindelik in ‘n plek van doodgewone rustigheid in. Hier of in die hemel, maar jy sal.

Jesus se Paasnaweek! Ek wil drie dinge uitlig:
(HIerdie kom net so uit my preek uit…)

  1. Dit vertel van die onvermydelikheid van swaarkry.
    “My God, My God, waarom het U my verlaat…”
  2. Die waarde van genesing en vergifnis.
    “Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”
  3. En die eenvoud van ’n gewone lewe daarna.
    “Kom eet ’n stukkie vis.” Op die strand in rustigheid….

Dit is die pad van die Kruis. Dit is die lewe van ‘n kind van die Here. Dis ‘n pad van swaarkry, pyn, en wedergeboorte. Kyk wat het Jesus gesê: 38Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie. (Matteus 10:38)

Ek wil nie ‘n lewe van Slawerny leef nie. Maar as ek wil vry kom, gaan ek die eerste tree moet gee, iets gaan moet sterf en JESUS HET KLAAR GESTERF. Maar Hy opgestaan, Hy het opgevaar. Hy is nou in my. Hy stap die pad saam met my…

Te veel Vryheid is nie goed nie…

Iemand sê hierdie ding vir my die week. Te veel Vryheid is nie goed nie. Wat!? Ek het dan nog altyd gedink dis die hele punt van die lewe. Ek meen oorloë is al vir hierdie rede geveg.

Die laaste tyd is dinge deurmekaar in ons land. Elkeen maak net wat hy of sy wil. Dis nie goed nie. Dit gee aanleiding tot anargie. (anargie is ‘n woord wat ek by Koos Kombuis geleer het.). Te veel Vryheid is nie goed nie.

Vryheid is goed. Jesus het juis gekom om vir ons Vryheid te gee. Maar Vryheid sonder grense is nie Vryheid nie. Dis sonde. As ek net doen wat ek wil of kan, dan doen ek gewoonlik die verkeerde ding.

Vat nou maar die huwelik as ‘n voorbeeld. Dit maak jou vry. Hoekom? Dit het grense, reëls, God se reëls. Ja, God se reëls. Nie mense se reëls nie. Mense se reëls bind jou vas, dis deurspek met sonde. Geen wonder dat mense die huwelik as ‘n “ball and chain” sien nie. God se reëls is heilig reg en goed (Romeine 7:12).

God se wet is die Bybel. Dit gee ons riglyne om ons lewe vry en goed te maak. Maar jy sien ek vertrou nie altyd God se wysheid nie. God se oplossings is nie altyd my oplossings nie.

Gisteraand kyk ek so ‘n stukkie van Senekal se dinge op Youtube. Wat sien ek. Ek sien boere wat God se wyshied soek. Ek hoor ouens wat praat van rustigheid en vrede. Ons mense het nog altyd gecope met twee dinge in hierdie land: Humor en Geloof.

Here help my om U wysheid te vertrou. Om dit te soek. Meer nog, om dit na te jaag. Help my om stil te staan en antwoorde in die woord te soek. Help my om die U Woorde meer te lees.

22Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, 23maar ek vind in my doen en late ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my ’n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is.

24Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?

 Die Bybel Nuwe Vertaling. (1998). (electronic ed., Ro 7:22–24). Cape Town, South Africa: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

Die woord is soos ‘n Spieël…

Jakobus 1:22-25 gaan oor ‘n Spieël. Die woord sê dat as jy net na jouself in ‘n Spieël kyk en weer wegloop en nie verander nie, dan bedrieg jy joiuself.

Die Woord wat soos ‘n Spieël is, is ‘n powerful beeld. Ons kyk in hierdie Spieël en God wys vir ons ‘n prentjie van onsself. God wys vir ons hoe ons moet lyk om regtig vry en gelukkig te wees sê Jakobus 1 (gaan lees dit gerus). Vry en gelukkig… Ek wil vry en gelukkig wees, jy ook, is ek reg…

Wat is die prentjie wat die Spieël ons wys. Die prentjie in die Spieël wys hoe ons meer soos Jesus kan lyk. So volmaak en volwasse soos Chistus (Ef.4:13). En om soos Jesus te lyk, om soos Jesus te wees, is my mission in die lewe. Dit is die lewe!

Maar hoe gaan ek dit regkry? Deur my te verdiep in die volmaakte wet sê Jakobus 1. Die volmaakte wet? Dit is die Bybel. God se liefdesbrief aan my.

Maar ons moet versigtig wees. Die Bybel is soos ‘n Spieël waarin ons kyk. Maar ons kan baie maklik net na die Spieël kyk en nie regtig in die Spieël kyk nie. Ek het onlangs met ‘n baie groot Christen te doen gehad wat nie baie nice is nie. Om die waarheid te sê sy was baie lelik met my. Ek wil nie so wees nie. Ek wil nie net na die Bybel kyk, die Bybel bestudeer en dit baie goed ken, maar dit verander my nie. Dan het ek soos iemand geraak wat na myself in die Spieël kyk, wegloop en niks verander nie. Dan bedrieg ek myself. Nee, ek wil nie net na die Bybel kyk nie, ek wil na myself in die Bybel kyk.

“Here, help my asseblief om na myself in die Bybel te kyk. Vader dankie dat U so lief is vir my dat U vir my wys hoe ek soos Jesus kan lyk. Heilige Gees verander my van binne af. Verander my om so volmaak en volwasse soos Christus te wees. Maak my regtig vry en regtig gelukkig.”

Jakobus 1:22–25 (AFR1983)

22Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself.

23Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in ’n spieël kyk:

24hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het.

25Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat ’n mens vry maak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen.

Hoe lief het ek U woning Heer…

Psalm 84 vers 11b in die Boodskap sê: “Ek sal liewer net ’n deurwag in u huis wees as om in die grootste paleise saam met mense te bly wat nie van U hou nie.”

Psalm 84 is regtig iets besonders. Psalm 84 vertel die verhaal van ‘n man wat regtig lief is vir God se huis. Hy hou daarvan om kerk toe te gaan. Het jy al die deurwagte op die flieks gesien. Ek dink in engels noem hulle hom ‘n Concierge. ‘n Mens kry altyd hierdie ou half jammer. Hy moet die deur oopmaak vir ryk mense en vir hulle grappies lag. Die Koragiet wat Ps.84 geskryf het sê; hy sal eerder dit doen by God se huis, as om in die grootste Paleise te bly. Hierdie ou het passie.

‘n Ander deel van hierdie Psalm wat ek van hou is die gedeelte oor die Mossie en die Swaeltjie. Hy sê die Mossie het ‘n nes en die swaeltjtie ‘n plek vir haar kleintjies daar by die huis van God. Ek hou daarvan. Hy beny die Mossie wat heeldag daar by die Tempel is, rondwip op die stoep en op die dak. En die Swaeltjie wat vir hom ‘n huisie van modder daar gebou het. Hy wil ook daar bly. Hy hou van die Tempel.

Die Tempel is die plek waar hierdie ou die lewende God ontmoet. Dinge het natuurlik baie verander. In die Ou Testament is dit waar God was. In die Tempel. As jy vir ‘n Israeliet sou vra: “waar is God?” sou hy vir jou na die tempel gewys het. Jesus het gekom. Hy is Immanuel, God met ons. En waar bly God nou. In ons. Ons is nou sy Tempel (1 Kor.3:16). Ons die Tempel van die Heilige Gees kom saam by die kerk. Die kerk is nou oral, want God is nou oral. Natuurlik ontmoet ons nie net vir God by die kerk nie, maar ek verlang daarna om vir God by die kerk te ontmoet.

Sondag begin ons weer. Al mag ons net 50 wees. Dis oraait. Ek smag daarna om weer kerk toe te kan gaan. Verstaan ons almal nie nou sommer ‘n bietjie beter wat die skrywer van Ps 84 bedoel nie? Gaan lees weer bietjie hierdie beautiful Psalm, ek is seker dit gaan met jou praat, soos met my. Jy gaan hierdie ou se passie sien en weer terug verlang daarna om kerk toe te kan gaan. Wie weet, miskien is ons sommer gou weer honderde saam in die kerk!

Wat beteken dit om jou kruis te dra..?

Jesus sê ons moet ons kruis opneem. Of Sy presiese woorde is: “As iemand agter my aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en my volg…” (Markus 8:34)

Elkeen van ons dra swaarkry saam met ons. Ons wonde gaan nie net weggaan nie. Dit verdwyn nie sommer net vanself nie. Ek hou niks daarvan as mense sê: “ag toemaar man, tyd sal genees…” so asof; as jy dit los sal dit weggaan.

Nee, elkeen van ons se swaarkry is deel van ons. Ons dra dit saam met ons van kleins af. Dit kom tien teen een al jare saam met ons. Of miskien is dit onlangs en nuut. Ons moet ons pyn huistoe bring. Solank as wat jou pyn vêr van jou af is, sal dit jou wond en ook die mense wat naby aan jou is wonde toedien. Jou pyn moet tuiskom, deel van jou word, dan eers sal dit vrug dra in jou hart en in die harte van die rondom jou.

Dit is wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het jy moet kruis opneem. Jy moet jou pyn bevriend! Wat! Ja, jy het reg gelees, jou pyn moet jou vriend word, nie jou vyand nie. Jesus het nie verniet ook gesê, “jy moet jou vyand liefhê nie…” en so by the way, jy kan nie jou naaste liefhê soos jouself as jy nie jouself liefhet nie. En solank as wat jy jou pyn in jou saamdra en dis jou vryand en nie jou vriend nie, sal jy nie vrede, liefde en vreugde kan beleef nie.

Jou waarheid kan jy net vind as jou pyn jou vriend word.

Daar is baie pyn in hierdie wêreld. Maar, die swaarste pyn om te dra is jou eie pyn. As jy jou eie kruis opgeneem het, gaan jy ander se kruise meer duidelik kan sien. Jou lewe gaan ‘n wegwyser word na vrede.

Jesus se pyn is sy grooste vriend. Jesus se pyn definieer Hom. Jesus het sy pyn omhels. Hy het toegelaat dat dit die een ding is wat die hele wêreld gaan verander. Maar, Jesus se kruis was langs ‘n smal weg. ‘n Moeilike weg, ‘n opdraande pad. Jesus se pyn was intens. Maar, die vrug daarvan is amazing. Mag Jesus my help om ook my kruis te dra. Mag ek die krag hê om agter Hom aan te loop.

NS. Na ‘n oordenking van Henri Nouwen. https://henrinouwen.org/meditation/take-up-your-cross/