Ons vra so baie vrae vir God… Hoekom het dit gebeur en wat daarvan. Het ons al daaraan gedink dat God in sy woord baie vir mense, vir ons, vrae vra. Vrae soos: Wie is jy? Waar is jy? Wil jy gesond word? Wat is jou naam? Waarheen is jy oppad?
Ek wil bietjie met jou praat oor een van God se vrae… Waar is jy? Genesis 3:9 (AFR1983) 9Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?”
Jy ken mos die verhaal al van kleins af. God het die mens gemaak en hulle in die Paradys geplaas. “Van al die bome in die tuin mag julle eet het Hy gesê; maar van die boom van kennis van goed en kwaad mag julle nie eet nie. As julle daarvan eet sal julle sekerlik sterwe…” Die mens het toe daarvan geëet. Toe kruip hulle weg. en God kom soek hulle. Waar is jy? vra Hy…
Toe ons klein was het ons vir ons ouers weggekruip in ‘n kas of tussen die klere in ‘n winkel. Die lekkerste was as jou ma of pa roep; “Waar is jy?” Dan weet jy jy word gemis, jy weet iemand gee genoeg om, iemand mis jou. Ek wil hierdie afleiding hier ook maak. God het sy kinders gemis, Hy soek hulle. Dis nou nie eintlik asof Hy nie geweet het wat aangaan nie. Ek meen as hy alwetend en alomteenwoordig is dan het Hy mos presies geweet wat aangaan. Hy vra “Waar is jy?” want, Hy gee om. En so kan ons maar gaan kyk regdeur die Bybel, soek God altyd na ons. Hy gebruik vrae om vir ons te wys Hy soek gesprek, ‘n verhouding met ons. Dink maar aan Job, God vra vir Hom , “Job wie het die Seekoei en die Volstruis en die Krokodil gemaak, wie is in beheer. Goeie vraag né! “Wie is in beheer?”
God soek ons. Jesus vertel van die een skaap wat weg is en toe los die wagter die nege en negentig en gaan soek die een. Jesus vertel ook van die muntstuk wat weggeraak het en hoe die vrou soek en soek en soek tot totdat sy dit kry. Sy soek nie net tot sy moeg raak, of tot die huis skoon is of tot sy besluit die muntstuk is nou maar weg nie. Nee, sy soek tot sy dit kry.
Jy sien ek dink hierdie is baie belangrik. Want, ons kruip weg. Hoe gaan dit vra iemand? Nee, baie goed dankie. Maar jy jok want jy kruip weg agter die woorde. Jou hart is seer maar jy wys dit nie, nie vir God nie, nie vir ander en ook nie eers vir jouself nie. God se vraag is ‘n goeie, liefdevolle, omgee vraag. en God vra hierdie vraag vandag vir my en vir jou. Waar is jy? Agter wat kruip jy weg?
En dan laastens. God soek ons omdat Hy vir ons lief is en omgee. Hy wil met ons in gesprek tree. Hy wil ‘n verhouding met ons hê. Dink maar aan die Gelykenis van die verlore seun. Die Vader het elke dag gaan kyk of die seun nie aankom nie. Sy hart het na die seun gesoek. Toe hy nog sommer vêr aankom het sy pa hom al gesien en na hom gehardloop en hom omhels en die vetgemaake kalf geslag.