Ek kan nie veel van my pa onthou nie… Maar wat ek wel onthou is hoe ons na F1 gekyk het. Ek onthou Jody Scheckter in sy rooi Ferrari. Maar veral onthou ek vir Ayrton Senna in daai swart kar met die goue letters. Ek het selfs so ‘n Skylectric karretjie gehad.
Ayrton Senna was nogal iets spesiaal. 3 Maal wêreld kampioen. Een maal het hulle hom gevra hoe dit gevoel het toe hy gewen het? Hy het gesê dat dit vir hom gevoel het of God self saam met hom in die kar was. Op ‘n ander keer het hy gesê: “God shows me the way…” Maar wat my die meeste getref het is toe hy op 1 Mei 1994 dood is in sy F1 kar terwyl hy voor gejaag het in die Imola Grand Prix in Italië. Die oggend van sy dood; ek haal aan: He opened his Bible to a verse that, according to his sister, said “God would give him the greatest gift of all gifts, which was God Himself.” En God het…
Hierdie gebeure het my baie aan die dink gesit. Hoe kon Ayrton Senna sê dat hy God beleef in F1? F1 die sport wat gaan oor geld, politiek, seks ensomeer. Jy sien dit was sy waarheid, dit was sy “truth.” Hy het God in dit gevind. Hy het vir ons God in dit gewys. En weet jy ons was al almal daar. Ek is seker jy kan in jou eie lewe ook aan baie voorbeelde dink waar jy God regtig beleef het. ‘n Oomblik wat vir jou waar was en is. As ek aan ‘n paar kan dink: Die dag toe my kinders gebore is. Die dag toe ek as nege jarige God beleef het op die paviljoen op Loftus Versveld. Die dag toe iemand vir my ‘n bottel water gegee het langs die pad in die middel van nerens, toe ek regtig baie dors was, en so kan ek aangaan.
Jesus sê Hy is die weg en die waarheid en die lewe. Die waarheid? Wat is hierdie waarheid? Jesus se waarheid is wie Hy is, wat Hy doen, wat Hy ons leer, wat Hy sê. En weet jy Hy is oral en was van altyd af daar en mens moet Hom net soek, dan sien jy Hom.
Dit laat my dink aan die gelykenis wat Jesus vertel het van die man wat ploeg in die saailand. Hy is besig met sy dagtaak. Hy werk, niks besonders nie, dis wat hy doen. Hy ploeg. En dan! Dan ploeg hy ewe skielik iets raak! Wat kan dit wees? Dis ‘n skat! Hy maak die gat mooi toe, gaan verkoop alles wat hy het en koop daardie stuk land. Want, daardie skat is nou sy lewe, sy waarheid, sy alles!