Die laaste tyd, eintlik maar van Paasnaweek af is die opstanding van Jesus die heeltyd in my gedagtes. Wat kan dit tog beteken? En hoe moet ek verstaan dat ek opgestaan het?
Dis toe dat ek Johannes 11 lees. Die verhaal van Lasarus. Jesus was nie daar nie. Martha en Maria, Lasarus se susters laat Hom toe roep. Hy wag nog twee dae op die plek waar hy was voor Hy kom. Vier dae na Lasarus se dood kom Jesus toe eers daar aan. 4 Dae is lank hoor… En daar wek Jesus vir stomme Lasarus op. Gaan lees gerus weer die verhaal in Johannes 11.
En ek kom agter: hierdie verhaal is ‘n metafoor vir die lewe, en nie sommer vir enige lewe nie, maar vir die opstandingslewe. Hierdie gebeure is soos ‘n skilderdoek waarop my en jou lewe geskilder is, maar aan die onderkant drup Jesus se bloed uit.
Kom ek verduidelik. Jesus talm nog twee dae voor hy na die graf gaan. Hoeveel maal was ek al in ‘n moeilike of hartseer situasie en dan voel dit of God ook talm. Prtymaal sommer langer as 2 dae hoor. Hoekom talm God? Wel die antwoord is duidelik in Johannes 11:4. Dit gaan oor die verheeliking van God. Dit gaan nooit oor my en jou nie.
Verder het Jesus na Lasarus se huis toe gegaan en na sy graf toe. God daag altyd op. Eintlik is God reeds daar, ons moet Hom net sien. En dan huil Jesus. (Johannes 11:35) God huil saam met ons hoor…
Hierdie verhaal wys vir my dat as ek saam met God leef op hierdie aarde, dan spring ek nie die dood en hartseer vry nie. Die lewe bly hard. Mense gaan dood, daar is hartseer. Maar! God die Vader, God die Seun, God die Heilige Gees is teenwoordig.
Ek en jy het saam met Jesus opgestaan as ons in Hom glo. Nou leef ons anders. Ons leef met die wete dat die dood nie die finale sê oor ons het nie. Jesus sê in die verhaal Lasarus slaap net. En as jy nie meer bang is vir die dood nie, dan leef jy anders. Maar ek is nog steeds bang vir die dood… Ja maar ek weet dat gee nie om watter hartseer, dood of elende my tref nie. Jesus sal opdaag. God sal saam met my huil. Die Heilige Gees sal my geloof gee. Want Jesus het opgetsaan en ek het saam met Hom opgestaan. Ek leef nou ‘n ander lewe. Nie omdat ek oulik is nie, maar omdat God so groot is. Dit gaan nie oor my nie dit gaan oor God.
Kyk hier, ‘n mens moet eintlik baie lank oor hierdie onderwerp praat. Eintlik moet mens ‘n boek skryf. Die opstanding is nie ‘n maklike besigheid om te verstaan nie. Maar die kort en die lank daarvan is dat my en jou lewe anders is. God is teenwoordig, nie soos Lasarus wat net in tyd en ruimte daar was en tog weer gesterf nie. Nee, Jesus is buite tyd en ruimte oral en in alles…
Efesiërs 4:10 (AFR1983)
10Die Een wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het bo alle hemelruimtes uit om alles met sy teenwoordigheid te vul.
So waar Henri.. Ons is gered nie oor wat ons gedoen het of kan doen nie maar oor wie God is! Dankie vir die herhinner dat niks ons van Hom kan skei nie. Geen lewe of dood..
LikeLike