Ons is almal op reis…

Ons is almal op reis….  partymaal as ek so na die mense se gesigte rondom my kyk; sê my geliefde prof. dan sien ek mense se gesigte is somber.  Ons lewensreis is vol worsteling.  Daar is so baie dinge wat ons worry.  En dit help nie die liedjie sê don’t worry be Happy nie – ons bly maar worry.

Amper soos die twee manne wat oppad was na die dorpie Emmaus. (Lukas 24:13-35)  Hulle gesigte oppad soontoe was ook somber.  Maar!  Toe hulle terugloop was hulle harte warm, daar het iets groot gebeur.  Hulle was nie dieselfde nie.

Wat het gebeur?  ‘n Interessante ordentlike vreemdeling het met hulle kom saamloop.  Hy vra nie of Hy kan oorbly nie, Hy maak of Hy wil verbyloop.

Die reis waarop hulle was is vreeslik normaal.  Dis ‘n gewone reis, amper soos om in die verkeer te sit.  En! Daar verskyn Jesus aan hulle en hulle weet dit nie eers nie.  Hulle lê ‘n bietjie menslikheid aan die dag en nooi Hom in om by hulle te kom oorbly.  Gasvryheid aan ‘n vreemdeling verander hulle lewe…  Hulle haal ‘n stukkie kos uit, seker maar iets wat oorgebly het na die middag se toebroodjies.  ‘n Stuk brood.

En toe gebeur daar iets baie snaaks.  Hierdie vreemdeling verander skielik.  Hy is nou nie meer die gas nie.  Hy word die gasheer.  Hy bedien hulle, breek vir hulle die brood.  En daar verander alles.  Hulle harte word warm, hul somber gesigte verdwyn en met groot blydskap reis hulle terug Jerusalem toe.

Wat kan ek/ons doen om ook so ‘n ervaring te hê?  Niks eintlik nie.  Ek/ons kan maar net reageer op Jesus wat ons bedien in die vorm van ‘n vreemdeling.

Ek dink ons moet die vreemdeling innooi.  In ons huise en in ons lewens is.  Wie weet miskien bedien Hy vir jou ‘n stukkie van jou eie brood, en hierdie brood word ‘n Tonikum wat jou lewe verander…

Partymaal is dit nie by die kerk en op kampe en groot byeenkomste waar God opdaag nie.  Maar, sommer in die gewone lewe terwyl ons besig is gewone dinge…

Author: Henri Meyer (vdm)

Ek is 'n doodgewone outjie in Mosselbaai wat die Here wil dien met my lewe...

Leave a comment