Ek moet by die Hoërskool gaan open op ‘n Maandag oggend. Ek het net 10 minute. En ek voel nog soos ‘n middeljarige bles oom ook nog. Ek kan onthou toe ek in die Hoërskool was, niemand is regtig lus vir die Dominee nie. Veral nie op ‘n Maandag oggend nie…
Maar tog! Dis so ‘n amazing geleentheid. Meer as ‘n 1000 kinders. Wat sê mens? Wel ek voel ek wil vir hulle sê hoe lief God ons het. Want sien, dis die een ding wat my die laaste tyd so gedring het. En gedra het.
Ek wil hulle vertel van my fiets ongeluk. (Kyk gerus die vorige Blog) Van hoe God my beskerm het. Hoe lief God my het. Maar waar kom ek daaraan? Ek bedoel nou, dat God my liefhet?
Jesus word gedoop en daar is ‘n stem wat uit die hemel kom. Die stem sê: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.” (Markus 1:11) Dink bietjie daaraan, hoe amazing moet dit nie wees nie. God jou Vader sê dit. Voor al die mense. Wat? Sal ek wil vra. Ek? Vader ken U my? Ek stel teleur, is materialisties, nie altyd eerlik nie, ‘n verloënaar. Vader ek dink U het miskien die verkeerde ou beet hier.
Maar dis Jesus onthou. Hy is sonder sonde; die perfekte seun. En ek dink by myself: “maar dis mos nie ek wat daar kniediep in die Jordaan rivier staan nie. Dis Jesus.” Maar dis net daar waar Jesus die hele ding op sy kop kom draai. Hy sê; ek en jy; is ook ons Vader se Seun of Dogter. Ons staan ook kniediep daar in die Jordaan. Dieselfde stem praat met my ook.
“Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly. (Johannes 15:9)
God sê: “Jy is my geliefde Seun. Jy is my geliefde dogter. Oor jou verheug ek my. My seun, my dogter. Jy het my nie gekies nie. Jy het nie my liefde vir jou gekies nie. Ek het! Ek is geweldig lief vir jou. Jy is my Seun, jy is my dogter, net soos Jesus.”
EN EK WIL IN HIERDIE LIEFDE BLY…
Amen. En ‘n saal vol tieners wat liefde en aanvaarding soek, hoor hierdie blye boodskap. 😊
LikeLike