Ek het nog nie die laaste blog geskryf oor hierdie Perlgrimstog nie. So hier is dit nou. Ek het tyd nodig gehad om eers tot verhaal te kom. Dit was ‘n geweldige ervaring.
My vriend Pierrie het die volgende vraag gevra in een van sy preke. “What makes you sad, mad,scared or glad?” Dis nogal ‘n goeie vraag as mens oor iets geweldigs soos hierdie moet dink en jou gedagtes agtermekaar moet kry.
Wat my “sad” gemaak het is? Die droogte. In Strydenburg kon ons eers 17:00 stort want daar is nie water nie. Die water in die dorp word net van 5-9 aangesit. Nie eers gepraat van Victoria Wes en die pad tussen Victoria Wes en Beaufort Wes nie. Dit het my baie laat dink. Ry ek nie vir die verkeerde mense nie. Ons samel geld in vir die mense in Mosambiek, maar wat van ons eie mense. En toe, toe tref dit my, dis dieselfde issue. Die wêreld is deurmekaar. Ons het ons eie grootste vyand geword. Global warming is, lyk my nou, ‘n werklikheid. Nie dat dit nie al lankal was nie. Maar nou voel ek dit aan my lyf.
En dit maak my “scared” en “mad”. “Scared” want, wat gaan van ons word en “mad” want, ek doen dan niks nie. Ek gaan maar net aan soos altyd. Die 16 jarige Greta Tinburg het baie bekend geword omdat sy gesê het, wat help dit ek gaan skool toe as die wêreld oor tien jaar gaan vergaan.
Wel daar het jy dit. Nou wat nou? Wel ek is ‘n optimis, ‘n dromer sê party mense. Maar ek is ook ‘n gelowige. Is alles nou verby? Nee, dit is nie. Ek wil hê wat God wil hê. Wat is dit wat God wil hê. Hy wil sy Koninkryk laat kom. Sy Koninkryk is die plek waar almal gelowig is, waar almal weet hoe lief Hy ons het. ‘n Plek van Rus en Vrede, ‘n plek van Blydskap.
Dit bring my by “glad.” Wat maak my “glad?” God my Vader maak my bly. Jinne as dit nie vir my Vader was nie. Wat dan? Wat wil God hê moet ons doen? Wel wat my persoonlik aanbetref, God wil hê ek moet beter na die aarde kyk. En Hy het my op hierdie toer gewys dat ons beter na mekaar moet kyk.
Daar is ‘n toekoms! By God is daar altyd hoop. Ons het R85 000 vir die mense in Mosambiek ingesamel. Die mense wie se lewens platgevee was deur die vloede. En nou is die nood op ons voorstoep. Lyk my ek sal nog ‘n toer moet doen. Hierdie keer vir mense hier rondom my wat deur hierdie droogte platgeslaan is. Jesus se opdrag was nie verniet: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel en jou hele verstand. Dit is die eerste en die grootste gebod, en die tweede wat daarmee gelykstaan is, Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
Jeremia 29:11–13 (AFR1983) .
11Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting!
12Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en ek sal julle gebede verhoor.
13Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra.
As jy nog iets wil bydra hier is die bankbesonderhede:
GO NG Kerk Mosselbaai
ABSA spaar – 9305467263
Takkode: 632 005
Henri, jou reis en gedagtes is besielend. Dankie vir jou voorbeeld en geloof. Seënwense.
LikeLiked by 1 person