Die laaste tyd is ek baie besig met hierdie onderwerp. Wat is sonde? Wel, iemand het vanoggend vir my ‘n baie goeie definisie van sonde gegee. Dis enigiets wat jou verhouding met God skade aandoen. Ek het nog altyd geglo dat Sonde iets is wat jou verhouding met jouself skade aandoen. Sonde dryf jou weg van God af en dit steel jou lewensvreugde.
Nou kom ek agter daar is nog iets. Kom ek begin eers voor. In Johannes 9 vertel Johannes van Jesus wat ‘n blinde man genees het. Miskien sal jy die storie onthou. Dis die een waar Jesus op die grond spoeg en klei aanmaak; wat Hy dan op die man se oë smeer. Die man kan dan sien en hy glo! Die Fariseërs is baie kwaad oor die hele besigheid. Hulle gaan so vêr as om te sê dat Jesus ‘n sondaar is omdat hy die man se oë genees het. Want sien, Jesus het dit op die Sabbatdag gedoen.
Nou hoe nou? Jesus weet mos die wet sê jy mag nie werk op die Sabbat nie. Hoekom doen Hy dit dan? Jesus wil hulle konsep van sonde uitdaag dink ek. Hulle glo dat sonde maklik is. Jy sien dit en jy wys ‘n vinger na dit en dis weg. Jesus sê nee, dis iets anders. Luister wat sê Jesus in Johannes 9:39 39Toe sê Jesus: “Ek het na hierdie wêreld toe gekom met die oog op ’n beslissing, sodat dié wat nie sien nie, kan sien, en dié wat sien, kan blind word.”
Jy sien toe ek hierdie gedeelte lees het God met my gepraat. Kyk in jou eie hart. Wat is jou sonde?
Ek lees op ‘n ander Blog die volgende: Some will say, “what I do in private is my own business.” But, as Frederick Buechner has pointed out “The world says, Mind your own business, and Jesus says, There is no such thing as your own business.” As a believer called to fellowship with other believers now and for all eternity, you have no such things as private sins or a private life. https://austind90.wordpress.com/2011/08/29/henri-nouwen-dietrich-bonhoeffer-resisiting-sin-is-love-for-the-communnity/
Jy sien die ding is Jesus is die lig. In sy lig sien ek my sonde. In my eie lig sien ek dit nie, daar is te veel skaduwees. Dis maklik om ander se sonde raak te sien. Maar my eie sien ek nie raak nie. En toe wonder ek, is ek nie miskien ook maar ‘n bietjie soos daar ouens wat Jesus ‘n sondaar genoem het omdat Hy genees het op die Sabbat nie. En toe bid ek: “Here, Jesus, help my. Help my om te kan sien, reg te kan kyk. Help my om na my eie sondes te kyk en dit raak te sien. Help my om in U lig te wandel sodat die skaduwees verdwyn.”
So wat gemaak met ander se sonde? Kom ons gaan saam met “ander”, saam met almal na die lig toe. Sodat ons die lig kan wees in hierdie wêreld. My sonde impakteer nie net my verhouding met God en met myself nie. Maar ook en miskien veral my verhouding met my naaste.
Martin Luther het gesê die evangelie is soos een bedelaar wat ‘n ander bedelaar wys waar om brood te kry.