God omvorm altyd ons krisisse in blessings…

Een van ons gemeente sendelinge Nick Strydom wat in Madagaskar werk, was die afgelope weke deur ‘n geweldige krisis.  Hy het per ongeluk iemand raakgery en is as gevolg daarvan tronk toe.  Ek wil nie te veel praat daaroor nie, want dis maar nog in ‘n sensitiewe stadium.  Maar, hy is uit die tronk uit en die saak moet nog deur die hof…

Sy pad het my geraak.  Dit het ook ‘n geweldige klomp vrae by my laat opkom.  Nick vertel dat hy in ‘n tronksel was van 3m x 4m waarin daar 16 gevangenes was.  Dit was haglik.  Hy het toe met die mense begin gesels oor die Here.  Nick vertel dat 12 van die manne kinders van die Here wil word.  Hulle situasie is so moedeloos dat hulle God se boodskap van hoop geweldig nodig gehad het.  Nick was nodig in daardie tronksel.  Dis nie eers te praat van al die mense wat gebid het, vasdae in Madagaskar, en so baie ander dinge nie.  Alles tot ons Vader se eer.  Maar, dit was ‘n baie rowwe tyd vir hom, sy vrou en die res van sy gesin.

So was dit die duiwel?  Was dit die duiwel wat Nick se werk in Madagaskar wil keer?  Wel, ek dink dis soos die sondeval.  Adam was daar, Eva was daar, die slang was daar, die appel was daar.  En toe gebeur die grootste krisis nog.  Sonde en elende, krisisse en chaos kom in hierdie wêreld in.  Die Paradys word gesluit.  ‘n Engel bewaak die ingang.  Die duiwel het ‘n vinger in die pie gehad, maar dis nie sy pie nie.  God is in beheer.  En van daardie dag af gebruik God allerhande krissise en sondes tot sy eer.

Dink maar aan die geweldige krisis wat Jesus deur was.  Jesus die man van smarte.  Dis nie rondom die krisis of ten spyte van die krisis dat daar vir ons hoop gekom het nie.  Dit is dèùr die krisis dat die hoop gekom het.  Vrede en oorwinning kan slegs deur die kruis kom.  Die kruis wat krisisse in geleenthede omskep.  Krisisse in seën.

Ek is deur baie dinge in my lewe.  Krisisse, sommige as gevolg van my eie besluite.  Sondes wat my seergemaak het.  Sommige het ek nie gekies nie, dit het net oor my pad gekom.  Maar wat nou daarvan.  Nick se verhaal het my weer kom leer dat ek ‘n keuse het, ‘n daaglikse keuse.  ‘n Keuse wat God my Vader vir my kom moontlik maak het; omdat ek sy geliefde seun is.  ‘n Keuse om te kies of ek ‘n victim gaan wees en of ek die blessing in my kruis/e gaan soek.  Daar is so baie.

MAAR, daar is ‘n krisis of twee wat ek so diep weggebere het dat dit nog steeds die potensiaal het om my bitter te maak.  Ek moet kies, ek wil kies om my Vader toe te laat om dit in ‘n seën te verander.

My Vader, help my.  Help my om te kies om U vrede te soek in my krisis.  Help my om te onthou wie ek is.  Ek is mos U geliefde seun.  U is lief vir my.  U aanvaar my, U verwerp my nie, selfs al het ek al hierdie dinge in my lewe.  Vader help my om my oë nie te vestig op die dinge hieronder nie, maar op die dinge daarbo waar U is…. Amen

3 Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. 2Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, 3want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.

Die Bybel Nuwe Vertaling. (1998). (electronic ed., Col 3:1–3). Cape Town, South Africa: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

Author: Henri Meyer (vdm)

Ek is 'n doodgewone outjie in Mosselbaai wat die Here wil dien met my lewe...

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: