Ek het onlangs ‘n huis gekoop. En dit het dinge aan my gedoen. Ek glo dit is geheel en al ‘n geskenk uit God se hand. Maar, toe kom ek agter. Nou het ek iets. Iets belangriks. Iets om te beskerm. Dis myne.
Hierdie jaar is lydenstyd special. Ek het in ‘n vorige blog geskyf oor my vas van suiker. Vas, gebed en gee, loop saam, kom ek agter. Ek wil stiltyd saam met God hê. Daar hoor ek die stem wat vir my lief was voor ek dit kon verdien. In my stiltyd hoor ek die stem, wat met my gepraat het, voor ek kon praat. Ek hoor die liefdevolle, lankmoedige, barmhartige, genadige stem van God (Joël 2:13)
Ek staan die ander dag so na my huis en kyk. En ‘n gewaarwording kom oor my. So ‘n warm gevoel. ‘n Duidelike stem in my hart. “Hierdie is nie jou huis nie. Jou huis is in die hemel by jou Vader, Jesus het vir jou gaan plek gereedmaak solank daar.“
Lydenstyd help my. Dit dryf my na God toe. Dit help my om te besef dat dit wat ek het, my lewe, nie ‘n besitting is wat ek moet beskerm nie. Iets waarvoor ek gewerk het. Iets wat hulle van my gaan wegvat nie. Nee, my lewe, dit wat ek het, is ‘n gawe uit God se hand. Dis iets om voor dankbaar te wees.
Kyk wat sê Openbaring…
19Hulle het stof op hulle koppe gegooi en geskreeu. Hulle het gehuil en gekerm en gesê:
“Hoe vreeslik, hoe vreeslik!
Die groot stad!
Almal wat skepe op see het,
het ryk geword van haar skatte.
In een oomblik is sy verwoes!”
Die Bybel Nuwe Vertaling. (1998). (electronic ed., Re 18:19). Cape Town, South Africa: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.