Spreuke 27:17 sê “Yster slyp yster, vriende vorm mekaar.” Dit het my laat dink? Hoekom yster? Yster is hard. Wat van papier of hout? Of miskien as jy regtig wil hard raak; klip.
Ek het die naweek ‘n Ape reunie gehad. Ja, “Ape” Soos n diertjie. Soos in sirkus. Dis ons voortrekker span se naam. Ons is die Ape. Dis ons span naam. Ons leier(of offisier) oom Neels is die Koning van die Ape. Hierdie spannetjie het begin toe ons in graad een was. Dis in die laat sewentigs. Ek het aangesluit toe ek 13 was.
Ons het getoer en gefliek en vis gevang en stout gewees en geval. Na skool het oom Neels ons bymekaar gehou. Ons het om en by elke jaar n reunie gehou. Al vir meer as 30 jaar.
Daar is nou al wyfie Ape en ‘n horde klein Apies.
En toe. Toe sterf oom Neels😢
Die afgelope naweek was ons weer bymekaar. En hierdie keer sonder ons oom Neels. Ons legend. Ons Pa, ons vriend, ons mentor, ons inspirasie. Hy is HUISTOE…
Dis waar die vriende en die yster ding vandaan kom. En ek dink ek weet hoekom gebruik die Bybel yster. Dis die yster dinge in die lewe wat ons vorm. Die swaarkry dinge. Die hard val goeters. Die foute. Yster slyp yster. Skerp. Hard. Die dood..,
En my grootste vriend. Jou grootste vriend. Jesus. Hy is ‘n Yster. Sy yster goeters is groot. Hy sê ek noem julle my vriende. Julle het my nie uitgekies nie. Ek het julle uitgekies. (Joh 15:11-17)
Jesus is die man van smarte. Sy smarte het my gevorm. My smarte het Hy gebruik. Gebruik vir wat? Om my vriende te vorm. En hulle smarte het Hy gebruik om my te vorm. En so slyp my yster vriende my en ek slyp hulle.
En die grootste yster van almal? Dis Jesus. My beste beste vriend. Hy gee nooit op nie. Hy bly slyp. Hy bly snoei. Ek is sy geliefde seun.