Paasnaweek…

Kersfees is great.  Dan gaan ons kerk toe, eet ons knuppeldik, kry geskenke, dink aan Jesus se geboorte, swem in die see.  Man dis Somer, Son en See.  Braaivleis, Rugby, Sonneskyn en Chevrolet.  (kyk hoe verklap ek nou my ouderdom…)  Selfs mister Bean vier kersfees.

Maar die eintlike magic.  Die groot tyd in die jaar; is nou.  Paasfees is eintlik die punt.  Sonder Paasfees sou Kersfees geen betekenis hê nie.  As Jesus net gebore was en nooit gesterf, begrawe is en opgestaan het nie.  Was daar niks.

Miskien is Paasfees te heavy vir die mens.  So heavy soos Notre Dame wat afgebrand het.  Dis mos baie lekkerder om oor geboorte te juig.  Niemand wil mos oor brand en dood en sulke dinge praat nie.

As kind het ons gewoonlik paasnaweek iewers heengegaan.  Vakansie gaan hou.  Ons het nooit regtig kerk toe gegaan nie.  Maar nie Kersfees nie.  Kersfees was ons in die kerk, of ons nou by die see was of waar ookal.

More is dit Stil Donderdag.  Jesus eet die laaste Avondmaal saam met sy dissipels.  Hy word gevange geneem.  Vrydag word Hy gekruisig.  Hy sterf Vrydag.  Omdat Hy wil…  Dan kom dit!  Die eintlike dag.  Die groot dag.  DIE GROOTSTE DAG.  Sondag.  Jesus het opgestaan.  Hy Lewe!  Ons kan lewe!

As daar ooit ‘n tyd in die jaar is dat ek wil kerk toe.  Dan is dit hierdie naweek.

“Dankie Jesus. Dankie dat U aan die kruis gehang het.  Vir my.  Ja, stukkende, sondige, useless ou my.  Dankie Jesus.  As U aan die misdadiger wat langs U gehang het genade kon gee.  As U die spul wat U daar gehang het kon vergewe.  Dan kan U my ook mos:  liefhê, vergewe, na luister en al die mooi dinge wat U vir my so gereeld doen, en reeds gedoen het. Amen”

Johannes 10:17–18 (AFR1983) 17“Die Vader het My lief omdat Ek my lewe aflê om dit weer op te neem. 18Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit my eie af. Ek het die volmag om dit af te lê, en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van my Vader ontvang het.”

Jy is God se geliefde…

Ek moet by die Hoërskool gaan open op ‘n Maandag oggend.  Ek het net 10 minute.  En ek voel nog soos ‘n middeljarige bles oom ook nog.  Ek kan onthou toe ek in die Hoërskool was, niemand is regtig lus vir die Dominee nie.  Veral nie op ‘n Maandag oggend nie…

Maar tog!  Dis so ‘n amazing geleentheid.  Meer as ‘n 1000 kinders.  Wat sê mens?  Wel ek voel ek wil vir hulle sê hoe lief God ons het.  Want sien, dis die een ding wat my die laaste tyd so gedring het.  En gedra het.

Ek wil hulle vertel van my fiets ongeluk.  (Kyk gerus die vorige Blog)  Van hoe God my beskerm het.  Hoe lief God my het.  Maar waar kom ek daaraan?  Ek bedoel nou, dat God my liefhet?

Jesus word gedoop en daar is ‘n stem wat uit die hemel kom.  Die stem sê: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”  (Markus 1:11)  Dink bietjie daaraan, hoe amazing moet dit nie wees nie.  God jou Vader sê dit.  Voor al die mense.  Wat?  Sal ek wil vra.  Ek?  Vader ken U my?  Ek stel teleur, is materialisties, nie altyd eerlik nie, ‘n verloënaar.  Vader ek dink U het miskien die verkeerde ou beet hier. 

Maar dis Jesus onthou.  Hy is sonder sonde; die perfekte seun.  En ek dink by myself:  “maar dis mos nie ek wat daar kniediep in die Jordaan rivier staan nie.  Dis Jesus.”  Maar dis net daar waar Jesus die hele ding op sy kop kom draai.  Hy sê; ek en jy; is ook ons Vader se Seun of Dogter.  Ons staan ook kniediep daar in die Jordaan.  Dieselfde stem praat met my ook.

“Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly.  (Johannes 15:9)

God sê:  “Jy is my geliefde Seun.  Jy is my geliefde dogter.  Oor jou verheug ek my.  My seun, my dogter.  Jy het my nie gekies nie.  Jy het nie my liefde vir jou gekies nie.  Ek het!  Ek is geweldig lief vir jou.  Jy is my Seun, jy is my dogter, net soos Jesus.”

EN EK WIL IN HIERDIE LIEFDE BLY…

Die lewe is broos…

Twee weke terug is ek in Stellenbosch vir ‘n kursus, en soos elke oggend gaan ry ek vroeg fiets.  Dit was so ‘n heerlike oggend.  Oppad terug waai die wind lekker van agter af.  Dit is, so by the way, die laaste ding wat ek onthou.  Ek onthou ek het op my Garmin (fiets rekenaar/gps) gekyk en gesien ek ry lekker 55 km/h.  Die volgende ding wat ek onthou is dat ek opkyk en ‘n wit hospitaal plafon sien.  ‘n Kar het my bo van my fiets afgery.  ‘n Ambulans het my kom optel en hospitaal toe gevat nadat ‘n engel gestop het en hulle gebel het (die persoon wat my getref het was te gerattle).

Die lank en die kort van die storie is dat ek niks gebreek het nie.  Net erge harsing skudding.  En dit het my laat dink…

Hoe is dit moontlik dat ek niks gebreek het nie.  Almal is verbaas by die hospitaal.  Ek het die kar nogal hard getref.  My fiets is flenters.  Wel ek dink Ons Vader het my beskerm.  Ja regtig.  In Psalm 91 staan daar11Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan.12Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen ’n klip sal stamp nie.

Dis die eerste ding.  Ek moet nou net gaan uitfigure wat my Vader vir my wil sê.  Maar ek dink Hy wil vir my iets sê in die lyn van:  “My kind, ek is baie lief vir jou.  Meer as wat jy ooit sal besef.  Ek gee om vir jou.  Ook as jy gaan fietsry.  Ek is altyd by jou.  Ek het my engele opdrag gegee om jou te beskerm soos so baie ander kere waarvan jy nie eers weet nie.  En my kind, ek wil jou nog gebruik hier op aarde.  Jou lewe is vir my kosbaar…”

Die tweede ding is:  die lewe is baie broos.  kyk wat sê Job 7:9 9Soos ’n wolk weggaan en verdwyn, so gaan ’n mens dood en kom nie terug nie…  Die lewe kan so maklik weggeneem word.  Leef elke dag voluit.  En weet God is altyd daar.  In die goed en die sleg.  Fillipense 4:13 is so mooi in Die Boodskap:  “Vir alles in die lewe, die goeie of die selgte, sien ek kans, omdat Jesus my bron van krag is.”

 

Soos ‘n man met sy vriend…

Ok; ek erken dit, ek is bang vir Chappies… Dit was die naweek weer die Argus fietsresies of soos dit deesdae bekend staan die Cape Town Cycle Tour. Soos wat die resies aangegaan het en hoe nader ons aan Chappies (Chapmans peake drive is ‘n lang opdraande naby aan die einde van die Argus fietresies) gekom het, hoe angstiger het ek geraak. En sien ons resies is hard, daars nie tyd vir opkyk of met iemand praat of wat ookal nie. Toe praat ek maar met Jesus…

“Here” sê ek. “Ek weet hierdie is nou nie eintlik ‘n belangrike ding nie. Dis net ‘n fietsresies after all. Maar kan ek maar met U praat oor Chappies. U sien Jesus ek wetie of ek dit hierdie jaar saam my groep daar gaan oor maak nie. Ek is ma half bang vir dit…”

En so praat ek toe met Jesus die hele pad oor. En weet jy wat. Ek beleef Hom as naby, luisterend en liefdevol. Hy het dit nou nie hard gesê nie. Maar in my hart, het Jesus gesê: “praat maar Henri, ek is lief vir jou. Wat vir jou belangrik is, is vir my ook belangrik, Ek luister graag.”

Dis toe eers lank na die resies dat ek weer daaraan dink en toe onthoou ek wat in Eksodus 33:11 staan “Die Here het direk met Moses gepraat soos ‘n man met sy vriend.”

Net die liefde sal bly…

“En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!” (1 Kor. 13:13)  Iemand sê eendag vir my: “Het jy al ooit ‘n lykswa gesien met ‘n Venter sleepwaentjie agterna?”  Wat kan ons saamvat hemel toe?

Geloof en Hoop gaan altwee tot ‘n einde kom as ons sterf.  Maar liefde sal bly.  Liefde bly vir ewig.  As ons sterf gaan ons alles verloor wat die lewe vir ons gegee het, behalwe liefde.  Liefde is God in ons.  Liefde woon in ons verhoudinge met mense.  Dit is al wat ons regtig saamvat en agter gaan laat.  Liefde gaan van generasie tot generasie.  Dit hou nooit op nie.

So as dit jou tyd is om huis toe te gaan.  Sê vir jou mense.  Liefde vergaan nooit nie.  Die liefde wat in my hart woon vir jou, daardie liefde is wat jou sal vertroos.

Om te Twyfel…

Ek onthou dit nog goed.  Ek was ‘n student.  Dis soos gister.  Ek sit op die blombak se rand voor die Teologie Fakulteit.  Met my kop in my hande.  Soos daai ‘denker’ beeldjie wat party ouens op hul lesenare sit.  Ek het net nie gedink nie.  Ek was moedeloos.  Ek was nie seker oor die hele dominee ding nie.  Ek het getwyfel.  Sommer in alles.  En so uit die bloute kom daar ‘n ou aan.  Hy het sulke “nice” oë gehad met sulke lang krul hare.  Nee regtig, dit het gebeur, ek maak dit nie op nie.  En hy vra my:  “Wat is fout?”  Ek vertel hom toe my hele storie, van twyfel en ek weet darem nie of ek ‘n dominee kan word nie en so aan.  Hy het geduldig geluister, omtrent niks gesê nie en toe is hy daar weg.  wat hy wel gesê het, is dat ek met iemand moet gaan praat daaroor.

Ek besluit toe om met een van my profs te gaan praat.  Prof. Jurie Le Roux.  Ek het van hom gehou.  Hy was ‘n genuine ou.  Sy antwoord het my net nogal verbaas.  “Ek is so bly as jy twyfel” sê hy toe “want sien, twyfel en geloof is soms soos twee kante van dieselfde muntstuk.”

En so berei ek ‘n preek voor oor Tomas die twyfelaar.  En ek kom agter Tomas was eintlik net ‘n genuine ou.  Iemand wat baie lief was vir Jesus.  Hy was maar net eerlik oor sy geloof.  Tomas was die een wat saam met Jesus terug wou gaan na gevaarlike Jerusalem; toe die ander dissipels nie wou nie.  Hy was die een wat nie kon verstaan waarheen Jesus gaan nie, toe Hy op die vooraand van die kruispad was.  Hy wou die pad daarheen ken, sodat Hy ook kon gaan.  En toe Jesus aan sy dissipels verskyn; die eerste maal na sy opstanding, was Tomas nie daar nie.  Hulle vertel hom toe.  En hy sê  “Not a mielies!”  “Dit kan nie wees nie.”  Hy gaan nie sy hart weer breek nie.  Hy sal dit eers glo as hy sy vingers in die merke in Jesus se hande en voete kan indruk.

Kyk bietjie hierdie twee aanhalings:

There is an unhealthy skepticism that refuses to believe, and there is an eager skepticism that wants desperately to believe but is afraid to hope.

Richards, L. (1999). Every man in the Bible (p. 191). Nashville: T. Nelson.

“Doesn’t the same thing also happen to us when something completely new occurs in our everyday life? We stop short, we don’t understand, we don’t know what to do. Newness often makes us fearful, including the newness which God brings us, the newness which God asks of us” 

Pope Francis

“Doubt is but another element of Faith.”

Saint Augustine

Ai die arme Here…

Fietsryers en Laerskool atlete het iets in gemeen. Nee een van die twee hou baie van deelneem in die reën nie.  Ek onthou nog goed toe ek eenmaal ‘n paar jaar gelede ‘n Laerskool atletiek byeenkoms moes open. “Dominee” vra die hoof, “bid asseblief dat dit nie moet reën nie. Jy weet as ons nie hierdie atletiek byeenkoms vanmiddag kan doen die, dan weet ek nie wanneer ons dit gaan inpas nie.” Die woorde van ‘n boer vroeër die week kom toe net daar by my op: “Henri kan ons nie asseblief ‘n biddag vir reën hou nie. Ek weet nie meer water kant toe nie…”

Toe ek vanoggend gaan fietsry en ek reën lekker nat naby Gourits, wou ek net begin kla. Toe dink ek aan daardie dag. As ek bid dat dit nie by die atletiek moet reën nie is die Boere kwaad vir God. As ek bid dat dit moet reën dan is die kinders kwaad vir God. Die arme Here. Hy kan ook niks reg doen die.  En ek voel toe vreeslik selfsugtig.

Daai dag toe bid ek maar dat die kinders ‘n lekker atletiek byeenkoms moet hê en die Boere ‘n goeie oes moet hê.

Besef dit tog: Ek, Ek is die Here!  Naas my is daar geen ander God nie.  Ek maak dood en ek gee lewe. Ek maak siek en Ek maak gesond. Uit my mag word niemand bevry nie. Deuteronomium 32:39