Die woorde van titel hierbo kom uit ‘n liedjie van ……. Ag jinne nou kan ek nie sy naam onthou nie. ‘n Amerikaanse gospel sanger. Die lied sê dat die lewe een groot avontuur is. En God leef die avontuur saam met jou.
Nou ja hier is my storie. Ek besluit toe mos nou op die ingewing van die oomblik – nadat my vriend Frans positief getoets het vir Corona en al ons fietstoer planne daarmee heen is – dat ek op my eie ‘n fietstoer gaan doen. Die plan is om vanaf Mosselbaai na Van Wyksdorp te ry. Vandaar na Laingsburg. Dan Prins Albert en daarna sal ek sien of ek kans sien om huis toe te ry. Anders tel iemand my op in Oudtshoorn.
Alles goed en wel. Maar toe slaan ‘n hittegolf my. Minimum temperatuur vir die dag 19 grade, maksimim temperatuur 55 grade. Ja jy het reg gelees 55 grade. En die gemiddeld, 41 grade. Dit gebeur toe op die pad tussen Vanwyksdorp en Laingsburg. Die vorige dag was die maksimum maar net 50 grade😂.
Ek ry toe so. Gaar gebrand. En wens dit wil reën. Ekt gesien hulle voorspel reën. Maar wat sê die spreekwoord. Be careful what you wish for.
Die volgende oomblik begin dit reën en hael. Soos in regtig reën en hael. En ek sien hier is moeilikheid. En ek bid. Vader stuur tog asseblief ‘n bakkie om my op te tel. I kid you not!!! Binne minute stop daar ‘n klein wit bakkie by my. Kan ons help? Vra hulle. Ja asseblief. Kan julle my ‘n lift gee. Wel sê hulle, ons is twee voor in en drie tannies agterin. Maar as jy en jou fiets kan in, is jy welkom. Met die fiets so half hangende op die klap en ek tussen die drie tannies ingesqeeze is ons vort. Net om die betekenis van flash floods eerstehands te beleef. Binne ‘n halfuur is die normaalweg droë driwwe, rasende maalkolke. En ons moet wag.
Ek sê toe maar vir die tannies dat ek my Vader gevra het om te help. Hulle kyk my met groot oë aan. Hulle glo dit ook. Hulle kom nou net van die kerk af. En toe. Toe noem ek hulle sommer ons Vader se engele. Engele wat Hy vir my gestuur het.