Beaufort Wes na Oudtshoorn (180 km)

Vanoggend toe ons uit Beaufort Wes uit wegtrek bid ons saam. Toe ek klaar gebid het sê ek. Weet julle die Here het so vir ons gesorg ons het nie eers een pap wiel gekry nie. 5 Minute later het ons toe die pap wiel.

Is dit nie hoe die lewe ook werk nie. Ons liefdevolle Vader is die hele tyd by ons. Hy kyk na ons, sorg vir ons, is daar vir ons. Maar die elende tref ons nog steeds. Want, jy sien daar is sonde in hierdie wêreld. En sonde bring elende. Eendag as ons by ons regte huis, by ons Vader is sal ons nie meer pap wiele kry nie, geliefdes sal nie meer siek word, en verhoudings sal nie meer verbrokkel nie.

Maar dis nie al nie. Toe ek die pap wiel kry het ek alles reg gehad. Pierre het gestop met die bakkie en tjoef tjaf toe is ons weer op die pad. Ons kom deur ons krisisse. Ons liefdevolle Vader is altyd daar vir ons. Ek weet ‘n pap wiel is nie eintlik ‘n issue nie. Maar daar kom krisisse oor ons pad.

Toe Daniël se drie vriende Sadrag, Mesag en Abednego in die brandende vuuroond gegooi was. Het God nie die vuur geblus nie. Hy het ook nie vir Nebukadneser se soldate met blindheid geslaan nie. Nee, die drie outjies is in die vuuroond gegooi en toe die koning weer kyk, wat sien hy? “het ons dan nie drie in die vuuroond gegooi nie, en nou is daar ‘n vierde en hy lyk soos ‘n hemelwese.” En toe laat Nebukadneser hulle uit die oond uitkom en hulle klere het nie eers na vuur geruik nie.

Lyk my God het nie die vuur weg gevat nie. Hy het saam met hulle in die vuuroond ingeklim. Net so klim God altyd saam met ons in ons moeilikhede in.

More ry ons die laaste 90 km oor die berg huis toe…

Victoria Wes na Beaufort Wes (134 km)

Vandag was ‘n dag van agterkom hoeveel ander mense vir jou beteken. Ek sou nie hierdie 1400 km van Thabazimbi na Mosselbaai kon maak sonder mense nie.

Eerste is daar Thinus. Hy het sommer so uit die bloute by die kerk na my toe gekom en gesê hy wil saam. Ek dink ons Vader het met hom gepraat, regtig. Hy is ‘n tonic, ‘n lewens tonic. Altyd reg met ‘n glimlag en ‘n grappie. As ons stop spring hy uit en maak koffie, maak bottels vol, praat moed in. Sy woorde wat hy sekerlik die meeste sê is: “nee, sit jy, ek sal dit doen.”

Dan is daar Pierrie. Hy ry die hele 1400 km agter ons aan met die bakkie. Hy kla nooit nie. Staan reg met die lekkerste eetgoed vir ons die heeltyd. Reël alles. Doen alles, wip hom nooit. Hy is my tjomma.

En Lemar, my seuntjie. Dit voel soos gister dat ons saam gebad het. ‘n Yster. Al is is sy knieg baie seer, byt hy vas. Is geduldig met sy pa. Praat moed in. Ons gesels land en sand oor alles. Ons vertrou mekaar. Ons is pa en seun.

En dan is daar God. Die Heilige Gees wat die heeltyd teenwoordig is net soos die wind. Maar in plaas van ‘n wind wat pla, is Hy die wind wat vertroos.

Ons Vader wat sy hand oor ons hou. Ons het nog nie eers soveel as ‘n pap wiel gekry nie. Ons Vader, Hy dra ons.

En Jesus. Hy was self hier. Hy weet wat suffer is. Met Hom kan ek praat oor al die arm mense wat ek in die Karoo dorpies sien suffer van armoede. Die boere wat swaarkry in die droogte. En die arme arme diere.

Op die ou end moet ek sê, eintlik gaan alles maar net oor God. U is die een wat mense oor ons pad stuur. Wat ons lewe rig, vir ons lief is. Hy het alles gemaak. Hy laat ons besluite neem en drome droom. En Hy is in dit, Hy droom saam. Dankie Vader dat U my drome gee. U is amazing.

Strydenburg na Victoria Wes (180 km)

Wind. As ek vandag met een woord kan opsom sal dit wind wees. Die wind het vir 180 km van voor af gewaai. Dit was rof. Toe ons in Victoria Wes inry was daar so ‘n sterk wind van die kant af dat dit my amper van my fiets afgewaai het. Maar ons het dit gemaak.

Die feit dat dit tough was het my nogal laat dink. Dit het my laat dink aan die mense in Mosambiek. Mense wat alles verloor het in die vloed. Hulle kon nie plant nie as gevolg van die vloede. Hulle het nie kos nie. Ons doen mos hierdie om geld in te samel vir hulle. Wat is ‘n bietjie wind.

Verder het ons deur die allerverskriklikste droë dele gery. Victoria Wes is baie droog. Ek weet nie hoe kan iets hier leef nie. Die winde het ‘n bietjie reën gebring. Wat is ‘n bietjie wind op ‘n fiets nou. In Strydenburg is die water eers 5 uur die middag aangesit.

Daar is niks soos bietjie swaarkry om mens se lewe weer in perspektief te plaas nie. Ek het so baie om voor dankbaar te wees. Vader baie dankie dat U so goed vir my sorg. Dit is net genade. Wys my waar en hoe ek kan help om u kinders wat honger is en swaar kry met die droogte te help.

Romeine 5:3–5 (AFR1983): Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.

Kimberley na Strydenburg. (174 km)

Elke oggend voor ons ry lees ons eers so ‘n bietjie uit die Bybel en bid saam vir die dag wat voorlê. Vanoggend het ons gelees uit Psalm 24. “Die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan.” Op vandag se roete was ek beïndruk met die pragtige natuurskoon. ‘n Ent uit Kimberley uit was die veld baie mooi, maar toe begin dit droog te raak. Diep droog…

Ons staan langs die pad by een van daardie sement tafeltjies met die afdakkie en koffie drink. Toe daar iemand by ons stop. Ek dag nog by myself o jinne wat het ek nou weer gesondig. Toe kom groet die man en vrou ons baie vriendelik. Hy stel hom voor as Marais. Ons het net so ‘n rukkie gesels toe kom ek agter hy is die dominee op Strydenburg. Die mense kry swaar sê hy. Die dorp ontvolk. Die wêreld is droog. Kan ons hulle nie help om hulle vleis te verkoop nie vra hy. Hulle maak alles hier en dan kom verkoop hulle dit op Mosselbaai. Ek sê sommer dadelik, ja dit klink na ‘n uitstekende idee (nie dat die besluit alleen by my lê nie).

En toe kom ons op Strydenburg aan. Ons bly by mense aan huis, maar hulle is nie hier nie. Hulle is weg vir besigheid, maar hulle het hulle hele huis net so vir ons gelos, vol kos en gasvryheid.

Vir eers kon ons nie stort nie. Die water kom eers 5 uur aan sê die kerkkantoor tannie vir ons. Dis maar hoe dit hier is, sê sy.

En ek besef hoe goed ons Vader vir ons is. Ek kla partymaal met die witbrood onder die arm. Maar ek kan jou een ding vertel, ons het miskien die see, maar hierdie mense het die Bo-Karoo. Dit laat my so baie aan die Kalahari dink. Dit is besonders. Ons Vader het dit gemaak. Vader stuur asseblief vir die mense reën.

More ry ons Victoria Wes toe…

Bloemhof na Kimberley (177 km)

Ons stop langs die pad net na Christiana. Twee mans kom aangeloop met ‘n voetpaadjie wat oor die treinspoor kom. Die ouer man het so ‘n verflenterde hoed op en ‘n bossie iets in sy hand. Hulle groet ons vriendelik, eks ma half nie lus vir hulle nie. Die seun vra: “so ‘n fiets is seker duur? Seker duurder as ‘n kar.” “Dis die standaard vraag mompel ek oonderlangs vir Pierrie.” Ma ek voel by myself sleg teenoor die twee vriendelike mense. Ek sien die pa het ‘n bossie in sy hand. “Waarvoor is die bossie?” Sê/vra ek. “Dis vir die bloed. Hoe sê mens, as die bloed ‘n bietjie hoog is. Mens maak ‘n tee met hom” Hoë bloeddruk sê ek op ‘n meerderwaardige manier. “Ja” sê hy. En daar loop hulle en ons gaan aan, drink koffie, maak reg en ry weer verder.

Die ontmoeting met die twee het my besig gehou. Ek dink nie ek was’n mooi kind van my Vader gewees nie. Ek dink nie ek het Sy Koninkryk gebou nie. Jesus vertel ‘n gelykenis waarin Hy sê ‘n mens moet nie op die voorste plekke by ‘n maaltyd gaan sit nie. Jy moet agter gaan sit. Want , as jy jouself verhoog sal jy verneder word en as jy jouself verneder sal jy verhoog word.

Ons het goed gery vandag. Die paaie is net baie plat in hierdie wêreld, ons is nie daaraan gewoond nie. Jy trap die heeltyd. Lemar se knieg het seer geword, maar ons was vanmiddag by die fisio. Ek is seker dit sal more beter gaan. Bid asseblief vir ons. More pak ons die pad Strydenburg toe aan. Ek sien uit na God se les op die pad more.

Ventersdorp na Bloemhof (210 km)

Iemand stuur vir my vanoggend hierdie op Whatsapp. Deut.1:29-31 “Word nie verskrik en wees nie bevrees vir hulle nie. Die Here julle God wat voor julle uit trek, Hy sal vir julle stry net soos Hy voor julle oë met julle in Egipte gedoen het en in die woestyn, waar jy gesien het hoe die Here God jou gedra het soos ‘n man sy seun dra, op die hele pad wat julle getrek het, totdat julle by hierdie plek gekom het.”

Is die Bybel nie amazing nie. Toe ek hierdie lees vanoggend toe tref die woorde my dat die Here jou dra soos ‘n man sy seun dra. Jy sien ek het twee seuns. WJ en Lemar, altwee is my blue eyed boys. Lemar doen hierdie pelgrimstog saam met my, dis baie spesiaal. Toe hulle twee klein was het ek hulle baie gedra. So op my nek. Hulle handjies in my hare, ek hou hulle beentjies vas. Wat sal ek nie gee om hulle weer so te kan dra nie…

En hier lees ek dit toe. My Vader dra my ook so. Hy het my al baie so gedra, want ek is ook sy blue eyed boy. Toe ek vandag so saam met my seun ry, toe dink ek daaraan. God is net so lief vir my. En toeWJ my gisteraand bel om te vra hoe dit gaan was dit so lekker om sy stemmetjie te hoor. Is dit hoe God oor my voel? Is dit hoe God oor jou voel? Wel die Bybel sê so. Glo dit!

Thabazimbi na Ventersdorp (220 km)

Vandag se trip het gegaan oor mense. Verkillende mense, verskillende kleure, tale, plekke. Kom ek vertel jou. Ons het vanoggend in Thabazimbi weggespring by ‘n baie groot grawer soos Pierrie dit genoem het. Ons moes daar wegspring want Pierrie se laaitie is mal oor grawers. So daar is eers foto’s geneem vir Daniel.

En toe pak ons die lang tog aan. Bang en onseker, want soveel mense het ons gewaarsku. Die pad is baie sleg hoor. Mens gaan deur die ou Boputhatswana. Julle moet baie versigtig wees hoor. Die pad is vol gate. Die mense is gevaarlik. Wel was ek nie heerlik verras deur al die swart mense langs die pad nie. Almal was vriendelik. Almal het gewaai. Gegroet. Pad gemaak. Vrolik toeter geblaas. Dit was te heerlik.

Ons trek toe in Rustenburg in. Dis ‘n bietjie sad daar. Mens kan agterkom iets het die dorp getref. Vader wees hierdie mense genadig, gee hulle weer hoop.

Van daar is ons verby Derby oppad Ventersdorp toe. Ventersdorp, ek was nog nooit hier nie. Al wat ek eintlik van Ventersdorp weet is dat Eugene Terreblanche hier gebly het. So 5 km buite die dorp het ‘n groepie ons ingewag. Ds. Coenie, sy vrou, Irma die skriba en haar dogter. Amazing mense. En toe kom Danie en Jannie daar aan om saam met ons in te ry met hulle fietse. Kom ons begin met Jannie, die haarkapper in die dorp en die horlosie maker. Maar wat Jannie interesant maak is sy stories oor sy Skilpaaie. Hy wys vir ons foto’s van hulle en hoe die wyfie eiers lê in sy tuin. Hy praat metsoveel passie oor hierdie skilpaaie van hom en God se wonderlike natuur.

Irma die skriba. Sy is amazing. Sy reël vir ons ‘n gratis oornag plek by oom Danie en sy vrou se gastehuis. ‘n Gratis ontbyt by die Wimpy half sewe more oggend. Maar dis nie al nie. Sy het gereël dat hulle gemeente ‘n Sondag of wat terug Helium balonne in die lug laat opgaan. Elke balon het ‘n boodksap van bemoediging aan. Dit val op plase en plekke en mense bel hulle met die mees amazing getuienisse. Maar dis nie al nie, mense het R40 betaal vir ‘n balon. Sy oorhandig aan ons ‘n koevertjie met geld in vir die mense in Mosambiek. Dit maak my hart broos. ‘n Ware engel.

Dit laat my dink. Oor Jesus wat gesê het ons moet ander mense altyd hoër ag as onsself. En dat elkeen wat ek elke dag ontmoet eintlik Jesus is…

More ry ons Bloemhof toe…