Skatte in die hemel…

Ek moet vanaand die Hoërskool se prysuitdeling gaan open. En weet jy, ek weet nie of die mense noodwendig gaan hou van dit wat ek glo ons Vader op my hart lê nie.

Ek ervaar deesdae dat ek en ander ouers baie druk op jongmense plaas. Hulle moet presteer. Jy moet ‘n loopbaan hê. As jy nie nou hard werk nie, gaan jy nie plek kry by die Universiteit om nie eers te praat van die koshuis nie. En onthou die hele besigheid is nog baie duur ook, so jy moet wragtag nie droogmaak nie. Jy kry net een kans hoor!

En dan lui Jesus se woorde in my ore. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar. Daar waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees sê Hy. En dan wonder ek wat sê ons met al hierdie dinge. Fokus ons op dit wat eintlik belangrik is?

Moet my nou nie verkeerd verstaan nie. Dit is belangrik dat ons kinders ‘n opvoeding moet kry en ‘n kwalifikasie om te gaan werk. Maar, leer ons hulle die ander kant ook? Leer ons hulle dat die werklik belangrike dinge in die lewe. Dinge is wat geld nie kan koop nie. Wys en leer ons hulle dat om Jesus se dissipel te wees belangrik is. Leer ons hulle van gebed. Wys ons hulle hoe lyk skatte in die hemel….

Author: Henri Meyer (vdm)

Ek is 'n doodgewone outjie in Mosselbaai wat die Here wil dien met my lewe...

3 thoughts on “Skatte in die hemel…”

  1. Henri, jy slaan die spyker op die kop. Ons is somtyds so gefokus op “performance” dat ons die ewigheidswaarde miskyk.
    Sterkte en seën.

    Like

  2. Henri baie dankie dit is absoluut so noodsaaklik dat ons almal weer herinner mowt word vd skatte in die hemel waar geen roes is nie. Baie yreffend. Baie dankie

    Like

  3. Ouerswees is nie vir sissies nie. As ek na skoolgeld en geld vir sport en boeke …en…en … kyk weet ek nie hoe kry ouers dit reg nie. Jy is egter reg oor die skatte in die hemel … dis die goed wat die heel langste hou.

    Like

Leave a comment