Om te suffer…

Partykeer raak dinge net te veel. Ek weet nou nie van jou nie, maar ek het dan ‘n break nodig. Net ek en die Here. Die laaste tyd was daar net te veel goed. My suster is baie siek (kanker😬), die chemo breek haar. My nefie se pragtige vroutjie is aan Malaria oorlede en los hom en die twee kindertjies agter. Nie eers te praat van die selfdood, kinder sterftes en kanker van mense wat ek liefhet in die gemeente nie.

Nou ja toe vir eers genoeg gekla. Daar kom toe ‘n Sinode vergadering in Stellenbosch op en ek besluit net daar en dan, dat ek die 380 km oor twee dae met my fiets gaan ry. Dag een tot in Swellendam, en dag twee die res van die pad oor die Ou Dutoitskloofpas na Stellenbosch. Ek en my fiets, met net die Here as geselskap.

Maar O my word! Ek het nie gebargain op die warmste dag in mense heugenis nie. ‘n Bergwind reg van voor. Meer as 40 grade celcius. Een van die moeilikste dae wat ek nog op ‘n fiets beleef het. Daai bergwind het my uitgedroog soos ‘n rosyntjie. Met 30 km. om te gaan tot in Swellendam stap ek later twee bulte uit ( die eerste keer in my lewe). Die salpeter slaan op my uit. Ek kramp so dat ek sukkel sukkel tot by ‘n draadheining stap en net so in die son neerplof in die stof😂.

En dis toe dat die Here met my praat. Hy sê ( nou nie in ‘n hoorbare stem of iets nie, sommer so in my hart): jou pyn is erg, maar dit is niks teen jou suster se pyn nie. Jou pyn is tydelik, môre voel jy beter, haar pyn hou aan. Alles gaan verby, behalwe skatte in die hemel. Maak hulle bymekaar.

En toe! Toe ry ek by hierdie bord langs die pad verby wat ek al so baie gesien het. In die verlede het dit my eintlik geïriteer. Maar die dag. Toe sien ek dit! “Vir Jesus is niks onmoontlik nie.”

Author: Henri Meyer (vdm)

Ek is 'n doodgewone outjie in Mosselbaai wat die Here wil dien met my lewe...

3 thoughts on “Om te suffer…”

Leave a comment