Die liggaam van Christus is hier!

In lukas 24:36-49 lees ons die regte gebeure van Jesus wat aan sy dissipels verskyn.  Ja, verskyn.  Sommer net so – out of thin air.  En Hy is nie ‘n spook nie.  Met respek Jesus is nie Casper the friendly ghost wat sommer so deur mure kan beweeg en orals kan wees nie. Spoke of geeste maak mens bang.  Jesus is nie daar om ons bang te maak nie.

Dit was vir Jesus baie belangrik dat hulle moet verstaan Hy is nie ‘n spook nie.  Daarom sê Hy vir hulle “Kyk na my hande en my voete: dit is tog ek self.  Voel aan My en kyk! ‘n Gees het tog nie vleis en bene soos julle sien dat ek het nie.”  Jesus is lewendig, regtig lewendig.  Hy is teenwoordig.  Dieselfde Jesus wat altyd saam met hulle was.

Maar dis tog anders.  Toe Jesus op aarde was, kon jy naby Hom wees, aan Hom vat.  Mense het na Hom gestroom.  Hulle wou Hom hoor.  Maar nou is Hy anders.  Kort na die gebeure hierbo het Hy in die hemel opgevaar.  En toe?  Wat nou?

Ons is nou die liggaam van Christus (1 Kor.12:27).  Ek sien die saak so.  Ek en jy is nou Jesus se ore, ek en jy is Jesus se oë, ek en jy is Jesus se hande, sy voete, sy vingers….  Jesus lyk nou anders.  Dis nou ons.  Ek moet na almal toe gaan en Jesus vir hulle gaan wees.  Jy moet na mense toe gaan en aan hulle raak met Jesus se hande.  Ons is nou Jesus se liggaam.  Die mense stroom nie meer na Hom toe soos toe Hy op aarde was 2000 jaar terug nie.  Nee, ons moet nou na die mense stroom.

Toe Jesus aan sy dissipels verskyn het in Lukas 24:36, sê Hy:  “Vrede vir julle!”  Ek vind daai vrede in Jesus.  Jy vind daai vrede in Jesus.  Dit sal so vrek nice wees as ons daai vrede vir ander mense kan wees.  Maar ons kan.  Ons is die liggaam van Christus.

Author: Henri Meyer (vdm)

Ek is 'n doodgewone outjie in Mosselbaai wat die Here wil dien met my lewe...

Leave a comment