Mens moet darem iets probeer…

Ok, so ons kon toe nie Basaar hou nie. In Moedergemeente Mosselbaai is Basaar ‘n amazing tyd. Dis Kalahari toe gaan, saam braai, kuier, vleis werk, poeding, pannekoek, kerrie en rys, te veel om op te noem. Corona het gemaak dat ons dit nou alles later moet skuif.

Toe sien ek in lockdown vir Matthys Beukes, hy ry vir 24 uur om sy huis, en toe ry hy 1000 km om sy huis. Ja, jy het reg gelees 1000 km om sy huis. Dit het hom 5 dae gevat. Hoekom doen hy dit? Hy samel geld in vir honger mense in Corona tyd. En hy inspireer my. Hy inspireer my om dit ook te doen. Nou nie die 1000 km nie. Nee vrek dis te heavy vir my. Ek is net ‘n gewone outjie en hy is after all ‘n professionele fietsryer. Maar glo vir my 24 uur is al klaar baie hoor.

Na ‘n lang getob deel ek dit met my vroutjie, sy kyk my aan of ek heel koekoes is. Ek deel dit ook met ‘n vriend en hy sê dit gaan nooit werk nie. Maar ek druk deur want, ek glo my Vader het met my in ‘n diep plek gepraat. Toe bel Dawie my. “Hello Henri kan ek jou join?” “Nee jinne Dawie ek weet darem nie.” “maar ek wil nie fietsry nie, ek wil draf.” “Wat?! vir 24 uur.” En toe voel ek nie meer so mal nie hoor. In dieselfde tyd bel Martin uit die Kaap, hy wil ook saamkom. Hy wil fietsry. Hy wil ook iets vir die Here doen.

Wel soos hulle sê; the rest is history. Dawie draf 170 km om die kerk en ek en Martin ry 260 km om die kerk. Dis nou binne in die kerkterrein hoor. Teen trappe op en af, oor muurtjies en om goeters. En ons samel tot op hede R158 000 in.

En ek leer ‘n paar dinge. Ek leer dat die Here ‘n mens se dinge gebruik. Ons Vader roep ons. Elkeen van ons vir verskillende goed. En Hy gebruik ons passies. Hy gebruik dit waarvan ons hou. En ek dink aan: Efesiërs 3:20 (AFR1983). 20Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink,

Ek leer dat om dinge saam met mense te doen beter is as om dit alleen te doen. Veral as dit oor roeping en passie gaan. Die Bybel sê; ‘n drie dubbele tou breek nie maklik nie (Prediker 4:12).

Ek leer verder dat die Here nooit vir jou sal doen wat jy self kan doen nie. Maar, dit wat jy nie kan doen nie, los dit in sy hande. Moet net nie niks doen nie. Werp jou brood op die water, eendag kry jy dit terug. (Prediker 11:1)

Soek jou roeping by ons Vader. Vra hom mooi. Om jou roeping uit te leef, dit te doen waarvoor jou Vader jou roep. Dis die lewe hoor. En onthou dis nie ons wat Hom kies nie, Hy het ons eerste gekies, gekies om uit te gaan en baie vrugte te dra (Johannes 15:16)

Gaan kyk gerus op facebook

Author: Henri Meyer (vdm)

Ek is 'n doodgewone outjie in Mosselbaai wat die Here wil dien met my lewe...

4 thoughts on “Mens moet darem iets probeer…”

Leave a comment