Hoe lief het ek U woning Heer…

Psalm 84 vers 11b in die Boodskap sê: “Ek sal liewer net ’n deurwag in u huis wees as om in die grootste paleise saam met mense te bly wat nie van U hou nie.”

Psalm 84 is regtig iets besonders. Psalm 84 vertel die verhaal van ‘n man wat regtig lief is vir God se huis. Hy hou daarvan om kerk toe te gaan. Het jy al die deurwagte op die flieks gesien. Ek dink in engels noem hulle hom ‘n Concierge. ‘n Mens kry altyd hierdie ou half jammer. Hy moet die deur oopmaak vir ryk mense en vir hulle grappies lag. Die Koragiet wat Ps.84 geskryf het sê; hy sal eerder dit doen by God se huis, as om in die grootste Paleise te bly. Hierdie ou het passie.

‘n Ander deel van hierdie Psalm wat ek van hou is die gedeelte oor die Mossie en die Swaeltjie. Hy sê die Mossie het ‘n nes en die swaeltjtie ‘n plek vir haar kleintjies daar by die huis van God. Ek hou daarvan. Hy beny die Mossie wat heeldag daar by die Tempel is, rondwip op die stoep en op die dak. En die Swaeltjie wat vir hom ‘n huisie van modder daar gebou het. Hy wil ook daar bly. Hy hou van die Tempel.

Die Tempel is die plek waar hierdie ou die lewende God ontmoet. Dinge het natuurlik baie verander. In die Ou Testament is dit waar God was. In die Tempel. As jy vir ‘n Israeliet sou vra: “waar is God?” sou hy vir jou na die tempel gewys het. Jesus het gekom. Hy is Immanuel, God met ons. En waar bly God nou. In ons. Ons is nou sy Tempel (1 Kor.3:16). Ons die Tempel van die Heilige Gees kom saam by die kerk. Die kerk is nou oral, want God is nou oral. Natuurlik ontmoet ons nie net vir God by die kerk nie, maar ek verlang daarna om vir God by die kerk te ontmoet.

Sondag begin ons weer. Al mag ons net 50 wees. Dis oraait. Ek smag daarna om weer kerk toe te kan gaan. Verstaan ons almal nie nou sommer ‘n bietjie beter wat die skrywer van Ps 84 bedoel nie? Gaan lees weer bietjie hierdie beautiful Psalm, ek is seker dit gaan met jou praat, soos met my. Jy gaan hierdie ou se passie sien en weer terug verlang daarna om kerk toe te kan gaan. Wie weet, miskien is ons sommer gou weer honderde saam in die kerk!

Author: Henri Meyer (vdm)

Ek is 'n doodgewone outjie in Mosselbaai wat die Here wil dien met my lewe...

5 thoughts on “Hoe lief het ek U woning Heer…”

  1. Terwyl die geloof abstrak is, het mens daardie raakpunte met konkrete dinge nodig om sin in die lewe te ervaar. Kerk is een van daardie konkrete dinge wat mens nodig het. Dit gaan nie oor die gebou nie maar VERAL wat mens as gelowige daar ervaar. So is die seënoplegging, nagmaal, doop en ook nog meer, sulke raakpunte.

    Like

Leave a comment